Email us:

nico@rainbowgr.com 

  • Facebook Social Icon

WEBMASTER:

Melinda du Plessis

My storie uit ʼn duisend stories – Melinda du Plessis

 

My storie bestaan uit ʼn duisend of meer stories, maar ek fokus op die laaste ses jaar.

 

Kort agtergrond: Ek het op ʼn plaas in die distrik Thabazimbi groot geword as die vierde van vyf kinders en het daar matrikuleer. My Ma is oorlede aan kanker toe ek sestien was. Na skool was daar nie geld om te gaan studeer nie, dus het ek gaan werk in Pretoria. My kinderlewe en jongmenslewe bestaan uit die minder mooi en goed, maar ook kosbare herinneringe aan ʼn ma wat haarself geoffer het en saad gesaai het in gebed op aarde waarvan ek nou die oes pluk jare later.

 

Tot en met 2011 het ek grotendeels in die boubedryf gewerk, ʼn mans-wêreld waar dit moeilik was om elke dag my plek te moes vol staan. Ek was altyd deeltyds betrokke by kerkbedrywighede en verskeie bedieninge. Diep in my êrens was daar altyd die droom dat ek voltyds vir die Vader sal werk, maar ek kon geen prentjie daaraan heg nie. Ek het deeltyds kinderbediening deur Padion Kinderbediening studeer, was selgroepleier in my kerk, het twee kinders help groot maak wat ook hul ma aan kanker verloor het, het uitreike na kinders en bejaardes georganiseer, vroueberading begin doen en later ook Life Coach Ministry deeltyds studeer. God het begin om deure oop te maak om as spreker op te tree by kleingroepe en vroue geleenthede. Alles altyd deeltyds sonder ‘n visie van wat dit is wat God wil hê ek nou eintlik moet doen.

 

In 2010 het ek ervaar om te begin spaar vir ʼn toer in Israel in 2011 – die Sukkot/Loofhutte fees toer van Hebrew People Institute. Ek het om te spaar redelik afgeskaal in uitgawes en getrek na ʼn kleiner blyplek. Dit was al ʼn paar jaar dat ek onder geweldige druk verkeer het by my werk en alhoewel ek bitter geseënd was in my beroep tot aan die einde, het ek gevoel hoe my ‘Melinda’-wees stukkie vir stukkie sterf in my. Twee weke voor my toer sou begin het, het ek ʼn naweek om gebid – tydens die Sondagnag het ek tot ʼn besluit gekom in gesprek met God. Dit het geëindig met: Vader as U my nie stop nie, gaan ek moreoggend bedank, ek kies nou om U my enigste sekuriteit te maak. Ek kies om te staan op U Woord oor my lewe. Ek weier om te glo dat die lewe wat ek nou lewe, is wat U vir my wil hê. Ek weet U het meer vir my. Ek gaan spring en ek kan net hoop U gaan my vang!

 

Die kort en die lank is: Hy het my nie gekeer om te bedank nie en Hy het my gevang. Ek het bedank. My baas wou dit nie aanvaar nie en het my vier weke ekstra betaalde verlof gegee na my twee weke toer om dit mooi te oordink. Ek is ʼn hoër pos aangebied net voor ek weg is op my toer vir ʼn heelwat groter salaris, maar êrens in my was daar ʼn wete wat sterker was as die sekuriteit wat ʼn salaristjek my kon gee.

 

Laat ek net gou sê dat ek nie finansieel vry was nie – in 2017 het God my wel skuld vry gemaak – ek het hope skuld gehad en my pa was finansieel afhanklik van my.

 

Ek het met die toer operateurs in Jerusalem gereël om die ekstra vier weke by hulle deur te bring na my toer. Tydens die toer het iets in my begin skuif, ek het steeds nie ʼn naam daarvoor nie – behalwe miskien dat Vader my op my woord geneem het soos ek vir Hom. Na die toer het ek elke dag met my Bybel, joernaal en kamera deur Jerusalem se strate gedwaal en God se wil gesoek. Ek het verskeie aanbiedinge ontvang uit Suid-Afrika. Ook het sovele vriende vir my Woord gestuur. Drie dae voor my terugkeer het die antwoord gekom in die vorm van die Emunah jaar van jou lewe program wat Hebrew People in 2012 sou afskop. Dit was nie ʼn logiese besluit nie – ek het geweldige teenkanting beleef – ek het skuld en baie ander verantwoordelikhede hier gehad, die jaar sou my R96 000 kos wat ek nie gehad het nie, my pa was nog afhanklik van my… tog het ek geweet dit is God se stem en ek het besluit om teen alle logika in blind te volg. Dit het my ʼn geweldige prys gekos in liggaam, siel en gees, ook jarelange vriendskappe, maar ek was nog nie een dag spyt nie.

 

Ek het huis toe gekom en my bedankingsbrief ingehandig en vyf dae voor my vertrek opgehou werk. In daardie tyd het ek alles verkoop: kar, meubels, amper alles, die klein goedjies het ek by vriende gestoor. Die besluit was alles of niks – ek het soveel as moontlik van my skuld afbetaal en die res van my finansiële verantwoordelikhede gesny tot op die been. Hierdie uitgawes, my kostes vir die jaar sowel as wat my pa maandeliks sou nodig hê het ek voor God se troon gaan lê en gevra of Hy daarna kan omsien, want ek kan nie. Hy het en Hy doen dit steeds daagliks. Ek het nie gedink dit is moontlik soos wat ek dit beleef nie, maar dit is. Hy is die Bron van alles wat ons het, wat ek het, en wanneer ek iets nie kan bybring nie, gee ek dit vir Hom as my verklaarde Voorsiener. Ek neem Hom elke dag op Sy Woord. Is dit maklik om so in geloof te stap, nee, maar dit is die klein en groot wonderwerke werd wat ek elke dag aan my lyf voel, wat ek sien.

Emunah – wat geloof beteken in Hebreeus – was ʼn ongelooflike ondervinding. Dit was geweldig moeilik en soveel is van my gestroop, maar net soveel is ingebou en verfyn en sterk gemaak. Die eerste jaar was ek ʼn spanlid en die tweede jaar die spanleier. Mei 2013 moes ek terugvlieg uit Jerusalem omdat my pa baie siek was en God baie duidelik met my gepraat het: ek het oor en oor gehoor: Eer jou Vader en jou Moeder. Toe ek in Johannesburg aanland is ek direk saam met my pa hospitaal toe en ons het vyf dae later gehoor dat hy terminale longkanker het. Ek is saam met hom huis toe om hom te versorg en vyf en ʼn half weke later is hy weg. Die tyd langs sy sterfbed het my baie geleer, van myself, van die lewe, van God. Dis ʼn ‘sakkie’ tyd wat my steeds motiveer om elke dag te leef, om te ervaar, om te probeer, om myself meer en meer uit te daag, om groter geloofspronge te gee maar ook om ander te inspireer om dieselfde te doen. Want, Hy is ʼn getroue God.

 

Ek het in Julie weer aangesluit by die Emunah groep in Switserland en terug daar besef my Pa se dood het my verander. Ek het Augustus teruggekom en verskeie vriende en vriendinne uitgehelp vir drie maande en is die einde Desember Holland toe vir ʼn drie maande ‘sabbatsverlof’ by vriende daar wat my genooi het. God het my wye oop ruimtes van vryheid daar gegee wat ek nog nooit ooit in my lewe belewe het nie – daar kon ek net wees voor Hom. Hy het Sy plan vir my kom uitlê in die fynste besonderheid vir die volgende seisoen. My bediening: Pips to Gemstones is gebore en voor ek hier in Kaapstad geland het, was my eerste vyf vroue groepe vol bespreek. Ek het nie huisvesting of ʼn motor gehad nie en Hy het dit alles voorsien binne die eerste week. Vir vyf maande moes ek ʼn huis oppas en kon ek met die motor ry. Daarna was dit die volgende geloofstap, om my eie blyplek te kry sonder enige bewys van inkomste, om ʼn voertuig te kry, om meubels te kry. Ek het 2 weke later ingetrek in ʼn tuinwoonstel sonder enige deposito, iemand het al die meubels gegee, en iemand anders het ʼn kar gekoop en betaal tot einde 2015 – ek het hom vir agtien maande self betaal en hom afgelos in 2017. Dis ons God. Ek weet nooit hoe die geldjies gaan inkom vir al die verantwoordelikhede nie, maar ek het nog nie een maand beskaamd gestaan nie, Hy maak elke dag ʼn weg. Hy gebruik my in vrouegroepe, innerlike genesingsgroepe, om bejaardes se voete te versorg, as au pair en met mentorskap – solank ek met mense kan werk en God se liefde kan uitleef in omgee maak dit my hart klop. Dis my hartklop om een persoon op ʼn slag te laat ervaar dat hul gesien en gehoor word en dat hul spesiaal is, vir my en vir God. My hart is om hoop uit te dra, om Sy lig op ander se pad te wees.

My fondsinsamelings projekte:

Terwyl ek in Holland was, het dit in my begin werk om iets groots te doen – ek het vir Vader gesê ek word veertig en wil iets doen wat my gaan rek op elke vlak, liggaam, siel en gees. Natuurlik het ek geen benul gehad van wat ek sê nie J! Ek het teruggeland in Kaapstad en binne die eerste weke terug het my vriendin, Sandra Wessels, gesê sy ervaar sy moet Kilimanjaro klim vir kosgeld vir die plaaskleuterskooltjie waar sy hoof is. Ek het onmiddellik gesê ek gaan saam… sy het my uitgelag, want ja, ek is nie ʼn driekamp-atleet of bergfietsryer soos sy nie, ek klim nie berge nie, maar ek het net geweet dis waarvoor ek gebid het. Wat ʼn journey was dit! Die projek was uiters geslaagd, ons oogmerk was R129 000 – genoeg geld vir ʼn jaar se kos vir die 22 kleuters in haar skool en vir ons om te gaan stap. Die media het ons goed ondersteun – die gemeenskapskoerant het gereeld opvolg berigte gedoen, selfs Kyknet het ʼn Dagbreker insetsel kom doen oor ons projek. Skole in die gemeenskap het betrokke geraak, so ook is al ons gespesialiseerde toerusting vir die staptog geborg deur verskeie sportwinkels. In totaal saam met die borge vir ons toerusting (R35 000) het ons ʼn bedrag van meer as R200 000 ingesamel, meer as genoeg vir twee jaar se kos vir die skooltjie, Môresterretjies, asook al ons ander kostes.

 

Ek het op daardie berg soveel ervaar, die kort daarvan: vir ons as mens is dit onmoontlik om enige berg te klim, fisies of geestelik, dit is God in ons wat dit doen. As ek nou terugkyk weet ek dit was nie ek nie, dit was Hy, nog altyd oral deur my lewe waar berge voor my opgedoem het, het Hy hulle geklim.

 

Beit Bracha goes the extra mile on the Camino

 

Hoe dit begin het, was ook net ʼn God ding. Vriende het my in Junie 2015 gevra of hul na my toerusting kon kom kyk wat ek vir Kilimanjaro gebruik het en gevra dat ek help met raad vir hulle Camino staptog. Ek het gegoogle en in ʼn oomblik van net kyk na die foto’s geweet ek gaan dit doen, weereens hoe, het ek nie geweet nie. Dit was dieselfde as die Kilimanjaro-wete wat ek hier binne gekry het. Die volgende oggend het ek Vader gevra vir wie dit gaan wees en onmiddellik het Beit Bracha Rehabilitasie Sentrum vir gestremdes opgekom in my gees. My doelwit was om R250 000 in te samel en daarby my kostes vir die 40 dae se stap. Ek het soveel moontlik fondse genereer vir myself deur ʼn paar persoonlike projekte. In Maart maand het ek genoeg vir my vliegtuigkaartjie gehad en dit gekoop as ʼn stap van geloof. R150 000 in kontant is ingesamel vir die sentrum in 2016 sowel as skenkings en borge van apparaat en gebruiksartikels van ongeveer R250 000. Ek het byna 18 ure ʼn dag gewerk vir my eie kostes en saam met skenkings het ek op die vliegtuig geklim met R32 000 in die bank. My hart bons steeds as ek dink aan God se goedheid en trou.

Beit Bracha Rehabilitasie Sentrum is ook intussen geregistreer as ʼn NPO, dus kan enige iemand wat skenkings wil maak ʼn belastingsertifikaat daarvoor ontvang. Gaan lees gerus die stories op hul facebook blad Beit Bracha goes the extra mile. Ons het verskeie projekte geloods vir die fondsinsameling, sommiges gaan steeds aan na amper twee jaar.

 

Die 40 dae van eenvoud op die pelgrimstog het my weereens gestroop van die klatergoud van die wêreld en my diep lesse geleer wat ek hoop om in 2019 te verwoord in boekvorm. Dit is ten volle in God se hande.

 

Skryf

God se aksiewoord vir my vir 2017 was: Skryf. ʼn Klein dogtertjie droom wat ek nooit gedink het sal waar word nie, ook nooit probeer het behalwe vir ʼn paar gedigte nie, maar tog verskeie profetiese woorde oor ontvang het. Weereens verras Hy my in Sy tyd in Sy seisoen.

 

2017 eindig met ses publikasies, waarvan twee my eie bundels is, ʼn kortverhaalbundel waarmee ek tweede eindig in ʼn skryfkompetisie en ʼn digbundel. Ek het steeds nie woorde om te sê hoe ek voel nie, want dit is steeds onwerklik.

Ek kyk met afwagting uit vir die draai van my nuwe seisoen. Mag Sy Naam verheerlik word daardeur.

Weet dat God getrou is aan Sy Woord…

 

Liefde

Melinda

Januarie 2018

My program op Rainbow Gospel Radio

Donderdag 23:00 SA Tyd

Uit my album ...