Email us:

nico@rainbowgr.com 

  • Facebook Social Icon

WEBMASTER:

Driekie Grobler

My Program op Rainbow Gospel Radio

My pad met die Here het begin op 7-jarige ouderdom toe my ouers geskei is. ‘n Pad van groei en leer om diensbaar vir die Here te kan wees.

 

As kind het ek die pyn en verwerping van egskeiding ervaar – dis hier waar die Here my hand gevat en my begin voorberei het om die seerkry te verstaan en te verwerk.

 

My ma het later as enkelouer gaan werk by die AGS kinderhuis in Lyndhurts (JHB) as ‘n saalmoeder oor junior dogters. Ek en my sussie was deel van die kinderhuiskinders, het saam met hulle geslaap, geëet, skool gegaan ens. Daar het ek geleer van uithou en aanhou, om ander wat minder as ek het te vertroos en te versterk. Meegeleef wat verwerping aan ‘n mens se psige doen.

 

Later het my ma oorgeskuif na die Ouetehuis en was ons weer deel van die Ouma’s en Oupa’s. Hier het ek empatie en respek vir ouer mense geleer.

 

Op skool was ek altyd betrokke as CSV-leier waar ek gereeld met ander se hartseer en seer te doen gekry het.

 

Ek was ook van skooldae af betrokke by verskeie aktiwiteite van die kerk, onder andere deel van die musiekspan. Het eers klavier gespeel in die eredienste vandat ek in std 6 (gr 8) was en later die orrelispos oorgeneem waar ek as orreliste in die kerk waargeneem het tot in my matriekjaar.

Na skool het ek begin werk in Nedbank, maar later ‘n pos gekry by die AGS Welsynsraad as tikster. Hier het ek maatskaplike verslae getik en weereens te doen gekry met die seer en stukkend van mense. Geleer om in perskeptief te verstaan en empatie te hê vir situasies waaroor ander soms geen beheer het nie.

 

Later die geleentheid gekry om saam met ‘n jeuggroep sendingwerk te gaan doen in die destydse Rhodesië (nou Zimbabwe), dit was ‘n maand-uitreik van onskatbare waarde, ‘n kosbare leerproses. Dit was dan ook tydens hierdie uitreik dat ek besef het ek wil eendag voltyds in diens van die Here staan. Maar ek moes ‘n baie wye draai loop en vir baie jare baie hard werk om te kom tot hier.

 

My pa is oorlede in ‘n motorongeluk kort nadat ons teruggekom het van die sendinguitreik af, en ek wou vlug na ‘n plattelandse plekkie, uit die stad wegkom. Het my werk by die Welsynskantoor bedank en verhuis na Middelburg (Kaap). Gaan woon by my pa se suster, en begin werk by Grootfontein Landbou Opleidingskollege as ‘n navorsingsassistent. Die klein kerkie in Middelburg was al jare sonder orrelis en ek het aangebied om die posisie in te neem. Het by al die eredienste, asook op troues en begrafnisse gespeel en gesing ook. Deeltyds ook kitaarlesse begin gee as ‘n ekstra inkomste.

 

Dis hier waar ek my man ontmoet het (nog ‘n stukkende mens wat die Here oor my pad gebring het). Ons is al 37 jaar gelukkig getroud en het drie pragtige kinders, 2 dogters en 1 seun, almal getroud met wonderlike lewensmaats (van die Here afgebid) en is al geseën met 3 pragtige kleinkinders en ‘n 4de enetjie op pad.

 

Ons eerste kind is in Middelburg(Kaap) gebore, ‘n pragtige dogtertjie. Ons verhuis later na Potchefstroom en dis hier waar sy breinvliesontsteking opdoen op 18-maande en by die dood omdraai. Die Here spaar haar lewe, maar in die proses verloor sy haar gehoor. ‘n Nuwe leerproses wat die Here in my skoot kom plaas. Om ‘n gestremde kind groot te maak was nie maklik nie, maar ek kon dit met die hulp en genade van die Here doen en omdraai in ‘n oorwinning. Ons dogter is vandag ‘n pragtige volwasse vrou wat soveel in haar lewe bereik het en uitgestyg het bo haar gebrek. Sy word binnekort Mamma. Die Here het vir haar ook ‘n wonderlike man gegee op wie ons baie trots is. Hy is tans besig met sy doktors-graad in Elektroniese Ingenieurswese en ‘n dosent aan die Universiteit van Pretoria. 

 

Nadat ons dogter siek geword het van breinvleisontsteking het ons besigheid ook bankrot gespreel en ons verhuis na Carletonville waar die Here vir my man ‘n goeie werk gee by die Stadsraad as Rekenmeester en later Hoof Interne Ouditeur. Hier het ons vir 13 jaar gewoon. Ons was ingeskakel by die plaaslike N.G. Gemeente en ek was betrokke by die Sondagskool vir baie jare. 

 

Asof ‘n gestremde kind nie genoeg was nie, plaas die Here toe ongevraagd en onverwags ‘n erg getraumatiseerde, weggooi-kind, wat niemand wou hê nie (wat op 2-jarige ouderdom verwyder is uit haar drank- en daggaverslaafde ouers se sorg, reeds in 6 pleegsorgplasings was) in my skoot. Weer ‘n nuwe leerervaring, om van ‘n beskadigde kind ‘n volwaardige mens te maak met die hulp en genade van die Here. Dit was nie maklik nie en ons het soms harde bene gekou. My doel was egter om haar so stewig moontlik aan die Here vas te anker. Vandag is sy 26 jaar oud en getroud ook met ‘n wonderlike man wat haar liefhet en aanvaar met al haar grille en geite. Sy is ook die Mamma van ons eerste drie kleinkinders, 2 seuntjies en ‘n dogtertjie. My liefiekinders uit wie ek soveel seën en liefde put. Alles was beslis die moeite werd, al het ek baie nagte voor die Here gehuil en gesê ek kon nie meer nie.

 

Later verhuis ons na Pretoria, sodat my oudste dogter (wat van 3-jarige ouderdom in die Transoranje-Skool vir Dowes was) uit die huis kan skoolgaan. Ek deurloop ‘n gebarekursus sodat ek ordentlik met my dowe kind kan kommunikeer. Raak ook later betrokke by die skool en dien vir 6 jaar op die beheerliggaam van die skool. Stig ook die TOS-Hulpaksie waar ons maandelikse pakkies met nodige toiletware aan behoeftige koshuisleerders voorsien. Verskeie kerke raak betrokke by die aksie en dit kring uit tot iets groot. Ons voorsien later ook ander benodigdhede soos klere ens.

 

Met my betrokkenheid met die kinders, sien ek die behoefte raak in die emosionele worsteling van dowes en hoe moeilik dit vir hulle is om met iemand te praat wat hulle kan verstaan. Daar is soveel verwerping en seer by die hulle. Baie dowe kinders se ouers weet nie hoe om met hulle te kommunikeer nie en stoot hulle maar eenkant toe.

 

Die Here lei my na Doxa Deo in Brooklyn waar ek my inskryf vir ‘n beradingskursus met die doel om as berader vir dowes te kan optree. (Ek deurloop ‘n jaar kursus en verwerf ‘n diploma in berading)

Op daardie stadium het ons in Florauna gewoon en was lidmate van die N.G. Kerk Florauna. Hier was ek betrokke by die Sondagskool, jeug en ook as voorsanger in die kerk. Later het ek ‘n Sondagskool vir dowe kinders begin en ook getolk in die eredienste sodat die kinders saam met hulle ouers die dienste kon bywoon.

 

Ek het ook later betrokke geraak by die Lewensverryking-seminare van Sors en Lida Geldenhuys. Eers werksaam met tieners, waar ek dan ook gereël dat die tienerseminare toeganklik gemaak word vir dowes d.m.v ‘n gebaretolk, sodat hulle ook die kampe kon bywoon. Dit word ‘n instelling om jaarliks ‘n groep dowe leerders saam te neem op die tienerkampe, wat wonderwerke in hulle lewe teweegbring.

Mettertyd raak ek ook betrokke as groepleier by die enkelseminare. Dit was ‘n wonderlike leerskool om so betrokke te kon wees by mense.

 

Ek skakel ook in by Woord-in-Aksie se vrouekampe en tree ook as groepieleier daar op gedurende hulle naweekkampe.

 

Intussen bly die Here stukkende mense oor my pad stuur en doen ek deeltyds berading tuis aan dowes sowel as horendes (gratis omdat ek indiens staan van die Here). Het nooit adverteer nie, slegs gehelp wanneer die Here iemand na my toe stuur.

 

Deur al hierdie jare het ek voltyds gewerk as boekhoudster/finansiële bestuurder/kantoor bestuurder by verskeie prokureursfirmas. Ek was altyd die een wat al die probleme moes hanteer en uitsorteer. Dit kon ek net doen met die insig en wysheid wat my Vader se getrou aan my geskenk het. Met my werk by prokureursfirmas het ek ook onskatbare waarde en kennis kon opdoen oor regsake en finansies.

 

Aan die einde van 2012 (met my kinders groot en uit die huis) het ek by ‘n kruispad in my lewe gekom en weereens my droom (om te kan skryf) voor die Here neergelê. Dinge het so uitgewerk dat ek op ‘n dag in Augustus moes kies. Nou of nooit. Ek het vir die Here gesê ek gaan nou ‘n stap in die geloof neem en dan alles in Sy hande laat. Ek het my vaste werk met ‘n groot salaris bedank en saam met my dogter ons eie boekhoubesigheid begin soda tons ‘n inkomste kon hê. Op die manier het ek meer tyd op hande gehad om ernstig te begin skryf. Eers het ek ‘n paar skryfkursusse deurloop en toe by verskeie groepe gaan aansluit waar ek my skryfwerk kon deel.

 

In 2013 word my debuut-digbundel “Hartsnare” uitgereik. Die Here maak een na die ander deur vir my oop in die skrywerswêreld. Ek skryf in vir die GHA se gedigtekompetisie en word bekroon as wenner in een van die afdelings. My wengedig verskyn ook later in die 2014 Bruidsgids. Verskeie radio-onderhoude volg en heelwat van my gedigte word voorgelees op verskeie radiostasies. Ons besluit ook om die bundel toeganklik te maak vir dowes en van my gedigte word voorgelees deur Helena Hettema en in gebaretaal vertolk deur Karin Koen. Op die manier raak ons ook betrokke by Deaf Friendly en begin opnames maak vir die program wat oor Kruiskyk uitgesaai word. 

 

My tweede bundel “Sirkeldans” verskyn in 2014. 

 

Om skryffiks te word het ek ongeveer 3 jaar gelede my eie blog op Wordpress.com begin wa www.3kiesblog.wordpress.om waar ek elke oggend ‘n kort boodskap (wat ek ontvang van die Here) gaan plaas en di took deurtrek na Facebook. Van die gereelde lesers het versoek dat ek van die stukkies in boekvorm moet uitgee. Die boek het so pas die lig gesien “Koester jou menswees” en is ook beskikbaar as E-boek by Kwarts Uitgewers/Kalahari en Leserskring. 

 

Die Here het my geskool en ontwikkel tot ‘n “Inspirasie Gansie” iemand wat ‘n hart en passie vir ander het, kan verstaan en vereenselwig met hulle seer en probleme. Kan hoop en leiding gee.

 

Deur die loop van die jare het ek verskeie kursusse deurloop in Doeltreffende Sondagskoolbediening, -Jeugbediening, -Traumabediening ens. Ek glo mens moet nooit ophou leer nie.

 

My droom was nog altyd om op te tree as Inspirasiespreker, voltyds betrokke te wees as berader en voltyds te kan skryf. Die Here het al my drome waar kom maak.

 

Verlede jaar het die Here my gelei om by die Woord en Lewe kerk in Pretoria aan te sluit met die duidelike boodskap dat die oes ryp is maar die arbeiders min. Ek was gehoorsaam en het op die Here gewag om my te gebruik waar Hy my nodig het en stadig maar seker het alles ook hier in plek geval. Ek is nou aangestel as voltydse berader by hulle.

 

Dit was altyd my begeerte om voltyds in diens van die Here te kan staan en indirek was ek nog altyd voltyds (op ‘n deeltydse basis) in my Vader se diens.

 

Ek beskou myself as ‘n beskikbare, gewillige instrument in Sy hand en meld aan vir diens waar Hy my ookal nodig mag hê, tot eer en verheerliking van sy grote Naam. Sonder HOM is ek niks.

 

Ek het in ‘n pinkster-kerk groot geword. Later ter wille van my man oorgegaan na die NG Kerk, want dit gaan nie vir my oor dogma of die kerk nie, maar oor persoonlike verhouding met die Here. My siening was nog altyd dat ek die Here in enige kerk kan dien.

 

Ek is ‘n wedergebore kind van God en gedoop in water en met die Heilige Gees.

Ewig diensbaar vir my Pappa-Vader. Aan Hom kom toe al die lof en dank en eer.

In my menswees is ek swak, maar die God agter my is sterk.

 

Sondag  17:00 SA Tyd